Monday, 30 September 2013

kwartaal twee


Ek moes lank en hard dink oor wie my rolmodel is. Iemand ouer as ek wat op 'n manier my lewe positief beïnvloed het. Ek het toe uiteindelik op my ouma besluit. Sy is die tipe mens wat ander help maak nie saak hoe lank dit vat of wie dit is nie. My ouma is 'n boervrou wat op haar eie met die boerdery in die Noord-Kaap aangaan na my oupa se dood 12 jaar gelede. Vrou alleen maak sy 'n goeie bestaan en kyk na haar familie. Haar hande staan vir niks verkeerd nie.
 
 
 
 
Ek het die agtergrond vervang met 'n ou, rofgepleisterde baksteen muur. Dit simboliseer hoe my ouma deur al die jare ons familie aanmekaar bind en hoe sy altyd daar is as ons haar nodig het. Sy is ook die een wat die stene van my lewe, en so baie ander mense se lewens, aanmekaar gesit het. My ouma se oë verander van kleur, dis natuurlik groen, maar as sy blou dra word haar oë blou, terwyl dit grys word wanneer sy kwaad is.  Haar oë was dus vir my 'n baie groot uitdaging met die projek.
 
Die bril was ook vir my baie moeilik om te verf aangesien daar so baie fyn weerkaatsings op die glas is en dus moet mens heeltyd vir jouself sê om te verf wat jy sien en nie wat jy dink jy sien nie.
 
 
 
Die vel was ook vir my 'n redelike uitdaging en het beslis my uithouvermoeë getoets. (Mense het selfs vir my gevra of ek vir Mandella verf). Dis altyd moeilik om iemand na-aan jou weer te gee sonder om ongelooflik krities met jouself te wees. Ek wou my ouma uitbeeld waar sy sit en staar in die verte in. Sy sit baie so en dus kom dit voor asof dit 'n oomblik in die daaglikse lewe is. Wanneer my ouma so sit wonder ek altyd waaraan sy dink, en of sy bloot net na my oupa verlang, of wonder hoe anders dinge sou gewees het as hy nog geleef het. Ek voel dat my ma en my ouma my ewe-veel beïnvloed, maar aangesien my ma my ouma se dogter is en ons drie duidelik uit dieselfde patroon gesny is voel ek dat ek op die manier 'n deel van my ouma, sowel as my ma en myself uitbeeld. Ek het beslis my sin vir humor en hoe ek situasies hanteer by my ouma geërf. My ouma se ma is Ouma Shorty genoem, omdat sy ongelooflik kort was. So ek erf definitief my lengte ook by my ouma.
 
 
Ek het besluit om 'n groot kans te vat en 'n akriliese paste te gebruik om die tekstuur van die rowwe semment in die agtergrond te kry. Dit was baie lekker om daarmee te werk en ek voel dit was 'n baie goeie leerproses gewees vir my. Ek sal graag in die toekoms weer op die manier tekstuur in 'n kunswerk in wil bring.
 
 
 
 


No comments:

Post a Comment